12. Ek laat selfs die Nyl opdroog sodat dit geen water meer het nie. En Ek gee die land in die hande van slegte mense. Hulle sal die land verwoes, en almal wat daar bly, doodmaak. Ek gebruik mense van vreemde lande om dit te doen. Luister mooi! Dit is Ek, die Here, wat nou aan die woord is.”
13. So sê die Here, Esegiël se God: “Ek slaan die afgodsbeelde van Egipte stukkend. Al die beelde van afgode wat opgerig is by die hoofstad, Memfis, breek Ek in stukke. Daar sal niemand meer in Egipte oor wees om oor die land te regeer nie. Geen wet sal meer geld nie.
14. Ek vernietig al die groot en belangrike stede, Patros en Soan en No. Daar sal net ruïnes oorbly van hierdie pragtige stede. Ek verbrand hulle in my woede.
15. Ek slaan die sterkste stad in Egipte, Sin, met my vuis plat, so kwaad is Ek vir Egipte. En Ek trap die soldate plat wat in die kwartiere in No bly, sonder genade.
16. Ek brand die hele Egipte tot op die grond af. Die mense wat in Sin bly, sal krul van die pyn wat hulle gaan tref. Ek skeur die mense van No uitmekaar. En Ek sal die mense van Memfis helder oordag aanval.
17. Die jongmense wat in Awen en Pi-Beset bly, sal in die oorlog doodgemaak word. En die vroue sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word.
18. In Tagpanes sal die son in die middel van die dag ondergaan, so donker sal dit word. Want Ek sal Egipte verwoes. Hy sal geen mag meer hê nie. “Egipte het gedink hy is so sterk. Hy het oral geloop en spog oor hoe sterk hy is. Daardie dag sal Ek sy mag breek. Dit sal lyk of donker onweerswolke oor die land opgekom het, die dag as die mense van die land as gevangenes weggevat word.
19. Ek straf Egipte swaar. Dan sal Egipte weet en erken dat Ek die Here is.”
20. Op die twintigste April 587 v.C. het die Here met my gepraat. Koning Jojagin was toe al elf jaar ’n gevangene in Babilonië, ver van sy eie land. Die Here het vir my gesê:
21. “Mens, Ek het die arm van die regeerder van Egipte, die farao, gebreek. En sy arm is nie in gips gesit sodat dit weer kan aangroei nie. Sy arm sal nie weer aangroei en sterk word sodat hy ’n swaard daarmee sal kan vashou nie.
22. “Want,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek is sy vyand. Ek breek al twee sy arms. Ek breek die goeie arm waarmee hy kan veg, en die arm wat al klaar af is, breek Ek nog verder. Die heerser van Egipte se swaard sal op die grond val. Hy sal hom nie kan vashou nie.
23. Ek verstrooi die mense van Egipte onder baie nasies. Hulle sal as gevangenes weggevat word.
24. Ék maak die koning van Babilonië se arms sterk. En Ek sit my swaard in sy hand. Maar Ek breek die arms van die koning van Egipte. Hy sal op die grond bly lê as Ek met hom klaar is. Hy sal so gewond wees dat niks of niemand sy lewe sal kan red nie. Hy sal brul van die pyn.
25. Ja, Ék maak die arms van die koning van Babilonië sterk. Maar die koning van Egipte sal nie sy arms kan gebruik nie. Want Ek sit my eie swaard in die hand van die koning van Babilonië. Hy sal Egipte daarmee verwoes.