7. Wees baie versigtig dat jy nie in bedrog betrokke raak en onskuldige en regverdige mense deur jou getuienis ter dood veroordeel word nie. Ek, die Here, kan nooit onreg goedpraat nie.
8. Jy moenie omkoopgeld aanvaar nie. Omkoopgeld maak ’n mens blind vir die waarheid en verongeluk die saak van die regverdige.
9. Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, onbillik behandel nie. Jy was self ’n vreemdeling in Egipte en jy weet mos goed hoe dit is om ’n vreemdeling in ’n ander land te wees.”
10. “Jy moet ses jaar lank op die lande saai en die oeste insamel.
11. In die sewende jaar moet jy dit net so los en dit glad nie bewerk nie. Die arm mense van jou volk mag dan die graan eet wat vanself daar opkom. Wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere eet. Dieselfde geld ook vir jou wingerde en jou olyfboorde.
12. Jy moet vir ses dae aangaan met jou werk. Op die sewende dag moet jy dit net so los sodat jou bees en jou donkie kan rus. Jou werksmense en die mense wat van ’n ander plek af kom, moet kan ontspan en uitrus.
13. Doen alles wat Ek vir jou gesê het. Jy moenie ander gode aanbid nie. Ek wil selfs nie eers hoor dat jy hulle name noem nie.”
14. “Daar is drie feeste wat jy elke jaar moet hou om my Naam groot te maak.
15. Die eerste een is die fees van die brood wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Soos Ek tevore al vir jou gesê het, moet jy sewe dae lank net kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Jy moet die fees begin op dieselfde dag dat jy uit Egipte weg is. Dit is in die maand Abib. Elkeen wat aan die fees deelneem, moet vir My offers bring.
16. “Die tweede een is die oesfees. Jy moet dit aan die begin van die oesseisoen hou, wanneer jy die eerste graan begin oes.“Die derde een is aan die einde van die seisoen, wanneer jy die laaste deel van die oes inbring.
17. “By al drie hierdie feeste moet al die mansmense die Here jou God by sy blyplek kom aanbid.