1 Samuel 14:9-28 Die Boodskap (DB)

9. As hulle vir ons sê: ‘Wag daar tot ons by julle is,’ bly ons staan waar ons is; dan klim ons nie op na hulle toe nie.

10. Maar as hulle sê: ‘Klim op hier na ons toe,’ dan klim ons op, want dan is dit vir ons die teken dat die Here hulle aan ons oorgegee het.”

11. Die twee loop toe openlik na die wagte toe. “Kyk daar,” sê die Filistyne, “die Hebreërs kruip uit hulle gate uit!”

12. “Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!” “Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.”

13. Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek.

14. Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê.

15. Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud.

16. Die verkenners van Saul by Gibea in Benjamin het laat weet dat die kamp in rep en roer is.

17. Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Kyk wie van ons is nie hier nie.” Hulle kom toe agter dat Jonatan en sy wapendraer nie daar is nie.

18. Saul sê toe vir Agija: “Bring vir ons die ark van God.” (Die ark was toe by die Israeliete.)

19. Maar terwyl Saul nog met hom praat, word die geraas in die Filistyne se kamp al groter. Saul sê vir die priester: “Los maar die ark!”

20. Saul en al die manskappe by hom trek toe saam vir die geveg. Maar tot hulle verbasing sien hulle dat die Filistyne in die deurmekaarspul teen mekaar veg!

21. Hebreeuse huursoldate wat vroeër altyd vir die Filistyne geveg het en wat saam met hulle in die kamp was, het hulle by die Israeliete onder Saul en Jonatan aangesluit.

22. Al die burgers van Israel wat in die Efraimsberge gaan wegkruip het, het gehoor dat die Filistyne aan die vlug is. Ook húlle het die Filistyne gejaag.

23. Die Here het Israel daardie dag uitgehelp.Die geveg het aangehou tot by Bet-Awen.

24. Die Israeliete het daardie dag harde bene gekou, want Saul het die manskappe voorgesweer: “So waar as die Here leef, enigiemand wat voor vanaand iets eet voor ek wraak geneem het op my vyande, sal doodgemaak word.” Niemand het aan iets geproe nie.

25. Al die manskappe moes deur ’n plek met baie bome gaan. Daar was byeneste in gate in die grond.

26. Toe die manne deur die bos gaan, sien hulle die vet heuningkoeke, maar niemand het dit gewaag om daaraan te proe nie, want hulle was bang oor die eed wat Saul gesweer het.

27. Maar Jonatan was nie by toe sy pa dit vir die manskappe gesê het nie. Hy steek die kierie wat hy in sy hand het se punt in ’n heuningkoek en lek dit af. Sy oë het sommer weer geblink.

28. Een van die manskappe praat toe met hom daaroor: “Jou pa het ons die dood voor oë gesweer en gesê: ‘Die man wat vandag iets eet, sal doodgemaak word.’ Daarom is die manskappe so gedaan.”

1 Samuel 14