Rigters 16:6-15 Bybel vir Almal (ABA)

6. Delila het vir Simson gevra: “Sê asseblief vir my hoekom is jy so sterk en waarmee kan ’n mens jou vasbind sodat jy nie kan loskom nie?”

7. Simson het vir haar gesê: “As mense my vasbind met sewe nuwe boogsnare wat nog nie droog geword het nie, dan sal ek niks kan doen nie. Ek sal soos ander mense wees.”

8. Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe nuwe boogsnare gebring wat nog nie droog geword het nie, en sy het vir Simson daarmee vasgebind.

9. Daar het manne by haar gelê en wag in die kamer. Sy het vir Simson gesê: “Simson, hier is die Filistyne!”Simson het die boogsnare stukkend geruk soos ’n dun garingdraad wat naby die vuur kom. Die Filistyne het nog nie geweet hoekom hy so sterk is nie.

10. Delila het vir hom gesê: “Jy het vir my ’n leuen vertel en my bedrieg. Sê nou asseblief vir my waarmee kan ’n mens jou vasbind.”

11. Simson sê toe vir haar: “As mense my styf vasbind met nuwe toue wat hulle nog nooit gebruik het nie, dan sal ek niks kan doen nie. Ek sal soos ander mense wees.”

12. Delila het nuwe toue geneem en sy het hom daarmee vasgebind en vir hom gesê: “Simson, hier is die Filistyne!”Daar het weer manne gelê en wag in die kamer. Maar Simson het die toue stukkend gebreek soos garing.

13. Delila het vir hom gesê: “Jy het weer vir my ’n leuen vertel en my bedrieg. Sê asseblief vir my hoe kan ’n mens jou vasbind.”Simson sê toe vir haar: “Ek sal swak wees as jy my sewe haarlokke vas weef in die materiaal op jou weefstoel.”

14. Sy het dit gedoen en sy het alles ook vasgesteek met ’n pen. Toe sê sy vir hom: “Simson, hier is die Filistyne!”Hy het wakker geword en die pen, die wewerspoel en die materiaal alles van die weefstoel afgeruk.

15. Delila het vir hom gesê: “Jy sê jy is lief vir my, maar jy wil nie vir my die waarheid sê nie. Jy het my nou al drie maal bedrieg en jy het nie vir my gesê hoekom jy so sterk is nie.”

Rigters 16