30. Toe hulle saam begin eet, het Jesus die brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood gebreek en dit vir die twee mans gegee.
31. Toe het God hulle laat sien dat dit Jesus is. Maar toe het Jesus skielik verdwyn, hulle kon Hom nie meer sien nie.
32. Die mans het vir mekaar gesê: “Nou weet ons hoekom ons so opgewonde was toe Hy met ons op die pad gepraat het en vir ons alles uit die Bybel verduidelik het.”
33. Die twee mans het dadelik opgestaan en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle het die elf apostels daar gekry en ook die ander mense by hulle.
34. Die apostels en die ander mense het vir die mans vertel dat die Here regtig weer lewe en dat Hy aan Simon verskyn het.
35. Toe het die twee mans vir die apostels en die ander mense vertel wat alles gebeur het. Hulle het gesê hulle het besef dit is Jesus toe Hy die brood gebreek het.
36. Die apostels was nog besig om oor hierdie dinge te praat, toe het Jesus tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “God sal vir julle vrede gee.”
37. Hulle het groot geskrik, hulle het gedink hulle sien ’n spook.
38. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom skrik julle so? En hoekom glo julle nie wat julle sien nie?
39. Kyk na my hande en my voete. Julle sal sien dit is Ek. Kom raak aan My, julle sal sien Ek het ’n liggaam, ’n spook het nie vleis en been nie.”
40. Jesus het dit gesê, en Hy het sy hande en sy voete vir hulle gewys.
41. Hulle was bly maar hulle kon nie glo wat hulle sien nie en hulle het nie geweet wat om te sê nie. Toe vra Jesus vir hulle: “Het julle hier iets wat Ek kan eet?”
42. Hulle het vir Hom ’n stuk gaar vis gegee.
43. Jesus het dit geneem en hulle het gekyk terwyl Hy dit eet.
44. Daarna het Jesus vir hulle gesê: “Onthou julle wat Ek gesê het voor Ek gesterf het en weer begin lewe het? Ek het toe vir julle gesê dat alles waar moet word wat in die boeke van Moses geskryf is oor My, en ook in die boeke van die profete en in die boek Psalms.”
45. Toe het Jesus vir hulle gesê hoe hulle die Bybel moet verstaan.
46. Hy het vir hulle gesê: “Daar is in die Ou Testament geskryf dat die Christus sal swaarkry en dat Hy op die derde dag weer sal begin lewe.
47. Daar is geskryf dat die mense wat in God glo, vir al die volke moet vertel dat God mense se sondes vergewe as hulle in Christus glo en as hulle verander en lewe soos God wil hê. Julle moet in Jerusalem begin