1. Jesus het by een van die leiers van die Fariseërs gaan eet. Dit was op die Sabbatdag. Die Fariseërs het goed gekyk wat Jesus alles doen.
2. Jesus het ’n man gesien wat watersiekte gehad het en opgeswel was.
3. Jesus vra toe vir die skrifgeleerdes en Fariseërs: “Mag ’n mens op die Sabbatdag iemand gesond maak of nie?”
4. Maar hulle het stilgebly. Toe raak Jesus aan die man, Hy maak hom gesond en stuur hom weg.
5. Jesus sê toe vir die Fariseërs en skrifgeleerdes: “As een van julle se seun of sy bees in ’n gat val, wat sal jy doen? Jy sal hom dadelik uithaal, ook op die Sabbatdag.”
6. En hulle kon nie vir Jesus antwoord nie.
7. Jesus het gesien die mense wil graag die belangrikste sitplekke by die tafel hê, die plekke naby die eienaar van die huis. Toe vertel Jesus vir die mense by die ete ’n gelykenis. Hy het gesê:
8. “As iemand jou uitnooi na ’n ete by ’n troue, dan moet jy nie op een van die belangrike plekke gaan sit nie. Miskien het die bruidegom iemand genooi wat belangriker is as jy.
9. Dan sal die bruidegom kom en vir jou sê: ‘Jy moet asseblief opstaan en jy moet jou plek vir daardie persoon gee.’ Jy sal baie skaam word wanneer jy moet opstaan en op ’n plek moet gaan sit wat ver weg is van die bruidegom.
10. Wanneer iemand jou uitnooi, dan moet jy gaan sit op die plek wat die minste belangrik is. Dan kan die bruidegom vir jou sê: ‘My vriend, kom sit nader by my.’ En dan sal al die mense sien hoe belangrik jy is.
11. God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en Hy sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.”