Lukas 12:6-13 Bybel vir Almal (ABA)

6. ’n Mens kan vyf mossies vir net twee sent verkoop. Hulle is baie goedkoop, maar God vergeet nie een van daardie klein voëltjies nie.

7. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.”

8. Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, as iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, ook vir God se engele sê daardie persoon behoort aan My.

9. Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek ook vir God se engele sê daardie persoon behoort nie aan My nie.

10. As iemand iets sê teen My, die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nie vergewe nie.

11. En wanneer die mense julle na die Joodse regters in die sinagoges vat of wanneer hulle julle hof toe vat, na heidense regters toe, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet antwoord of wat julle moet sê nie.

12. Die Heilige Gees sal vir julle leer wat julle dan moet sê.”

13. Daar was baie mense, en een van hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, my broer erf baie goed. Sê vir hom hy moet vir my ook daarvan gee.”

Lukas 12