1. Die Here het met Moses gepraat. Dit was nadat die twee seuns van Aäron gesterf het toe hulle te naby die Here gekom het.
2. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir jou broer Aäron sê hy mag nie sommer enige tyd kom in die gewyde kamer agter die gordyn nie. Die kis van die Here is daar en die deksel is op die kis. Hy sal sterf as hy dit doen, want Ek verskyn in ’n wolk bokant die deksel.
3. Aäron mag net in die gewyde kamer kom wanneer hy ’n jong bul bring om ’n sonde-offer te wees en ook ’n skaap-ram om ’n brand-offer te wees.
4. Hy moet die gewyde rok aantrek en hy moet ’n linne-broek dra. Hy moet die linne-belt vasmaak en die tulband op sy kop sit, dit is die gewyde klere. Aäron moet homself bad en hy moet daardie klere aantrek.
5. Hy moet twee bok-ramme neem van die volksvergadering van die Israeliete, dit is om sonde-offers te wees en hy moet een skaap-ram neem om ’n brand-offer te wees.
6. Aäron moet dan die bul offer, dit is ’n sonde-offer vir sy sondes, en hy moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin.
7. Daarna moet hy die twee bokke neem en hy moet hulle voor die Here laat staan by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.
8. Dan moet Aäron lootjies trek oor die bokke, een bok is vir die Here en een bok is vir Asasel.
9. Aäron moet dan die Here se bok nader bring, en hy moet dit offer om ’n sonde-offer te wees.
10. Hy moet die bok vir Asasel lewendig voor die Here laat staan sodat hy op die bok versoening kan doen. Dan moet hy die bok vir Asasel in die woestyn stuur.
11. Aäron moet dan die bul nader bring wat ’n sonde-offer vir homself is en hy moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin. Hy moet die bul slag wat ’n sonde-offer vir homself is.
12. Hy moet ’n pan vol vuurkole neem van die altaar voor die Here, en hy moet ’n handvol fyn wierook neem wat lekker ruik. Hy moet dit na agter die gordyn neem.
13. Daar moet hy die wierook op die vuurkole sit sodat die wierook ’n rookwolk maak. Die rook sal die deksel toemaak wat op die kis is waarin die tien gebooie is. As die wolk nie die deksel toemaak nie, dan sal Aäron sterf.
14. Hy moet dan van die bul se bloed neem en hy moet dit met sy vinger spat teen die voorkant van die deksel. Hy moet sewe maal van die bloed teen die deksel spat.
15. Daarna moet Aäron die bok slag wat ’n sonde-offer vir die volk is. Hy moet die bloed van die bok neem na agter die gordyn, en hy moet dieselfde doen met die bok se bloed soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet die bloed spat teen die voorkant van die deksel.
16. So moet Aäron versoening doen in die gewyde kamer, want die Israeliete is onrein en hulle het verkeerd gedoen. Hy moet versoening doen vir al hulle sondes, en hy moet dit ook doen vir die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, want dit is die tent wat by hulle bly, by hulle wat onrein is.
17. In die tyd wanneer Aäron inkom om versoening te doen in die gewyde kamer en totdat hy weer uitgaan, mag daar niemand anders wees in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn nie. Aäron moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin en vir die hele volk Israel.