Esegiël 40:26-37 Bybel vir Almal (ABA)

26. ’n Mens kon teen sewe trappe in die poort opgaan, en daar was ’n voorportaal by die binnekant. Daar was ook palmbome uitgesny op die pilare by altwee kante.

27. Daar was ’n poort by die suidekant van die binneste oop stuk grond. Die man het gemeet hoe ver dit is van die een poort na die ander poort. Dit was 100 el.

28. Toe neem hy my deur die suid-poort na die binneste oop stuk grond. Toe hy die binneste suid-poort meet, was dit so groot soos die ander poorte.

29. Die kamers en die pilare en die voorportaal was so groot soos die ander kamers en pilare en voorportale. Daar was ook vensters in al die mure. Daar was vensters in al die mure van die poort en die voorportaal. Die poort was 50 el lank en 25 el breed.

30. Elke poort het ’n voorportaal gehad, dit was 25 el lank en vyf el breed.

31. ’n Mens kon deur die voorportaal gaan om op die oop stuk grond by die buitekant te kom. Daar was palmbome uitgesny op die pilare en ’n mens het teen ag trappe opgegaan in die poort.

32. Toe bring die man my na die binneste oop stuk grond, dit was langs die oostekant. Daar was ’n poort, en hy het die poort gemeet. Dit was so groot soos die ander poorte.

33. Die kamers in die poort en die pilare en die voorportaal was so groot soos die ander kamers en pilare en voorportale. Die voorportaal het ook vensters gehad. Die poort was 50 el lank en 25 el breed.

34. ’n Mens kon deur die voorportaal gaan om op die oop stuk grond by die buitekant te kom. Daar was palmbome uitgesny op die pilare langs altwee kante, en ’n mens het teen ag trappe opgegaan in die poort.

35. En toe bring die man my na die noord-poort en hy meet die poort. Dit was so groot soos die ander poorte.

36. Daar was kamers en pilare en ’n voorportaal en vensters in al die mure. Die poort was 50 el lank en 25 el breed.

37. ’n Mens kon deur die voorportaal gaan om in die buitenste oop stuk grond te kom, en daar was palmbome uitgesny op die pilare langs altwee kante. ’n Mens het teen ag trappe opgegaan in die poort.

Esegiël 40