Esegiël 17:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, jy moet vir die volk Israel ’n gelykenis vertel, ’n fabel.

3. Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Die groot arend met die groot vlerke en die lang vlerkvere en die baie bont vere het na die Libanon-berg gekom. Die arend het die boonste punt van die sederboom afgebreek en weggevat.

4. Hy het die sagte boonste takkie afgebreek en hy het dit na die land Babel geneem. Hy het dit neergesit in Babel, die stad van die handelaars.

5. Toe het die arend ’n takkie uit die land Israel geneem en hy het dit geplant. Hy het dit in die grond geplant soos ’n mens ’n tak van ’n wilgerboom plant. Daar was baie water.

6. En die takkie het gegroei en dit het ’n wingerdstok geword wat laag op die grond groei. Die wingerdstok se wortels was onder hom, en hy het sy blare na die arend toe gedraai. Die plant het ’n wingerdstok geword wat baie ranke en blare het.

7. Daar was nóg ’n groot arend met groot vlerke en baie vere, en toe, skielik, draai die wingerdstok sy wortels en sy ranke na die tweede arend toe, hy wou nog meer water by die tweede arend kry as by die plek waar die eerste arend hom geplant het.

8. Die eerste arend het die wingerdstok in goeie grond geplant, by baie water. Die wingerdstok kon ranke en blare kry en dit kon ’n baie mooi wingerdstok geword het.

9. “Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Dit sal nie goed gaan met die wingerdstok nie. Die eerste arend sal sy wortels uittrek, sy druiwe sal dan sleg en droog word en sy nuwe takkies sal verlep. Die arend sal maklik die wingerdstok self kan uittrek, hy sal nie vir baie mense moet vra om hom te help nie.

10. Dit sal ook nie goed gaan met die wingerdstok wanneer die tweede arend hom op ’n nuwe plek plant nie. Wanneer die oostewind begin waai, dan sal die wingerdstok heeltemal droog word. Dit sal droog word daar waar dit gegroei het.”

11. Ek het gehoor die Here sê vir my:

12. “Jy moet asseblief vir die opstandige volk vra: ‘Weet julle wat dit beteken?’ Jy moet dit vir hulle verduidelik en jy moet sê: ‘Die koning van Babel het na Jerusalem gekom. Hy het die koning en die amptenare gevat en hy het hulle na hom toe geneem in Babel.

13. En toe het hy iemand uit die koningshuis geneem. Die koning van Babel het ’n ooreenkoms met hom gemaak en hy het gesê die man moet belowe om hom, die koning van Babel, te dien. Die koning van Babel het die belangrike mense weggeneem uit die land

14. sodat die nuwe koning van Jerusalem sal weet dat hy nie belangrik is nie en dat hy nie moet probeer om belangrik te wees nie. Hy moes doen wat hy en die koning van Babel in die ooreenkoms besluit het, dan kon hy koning in Jerusalem bly.

Esegiël 17