Eksodus 10:3-17 Bybel vir Almal (ABA)

3. Moses en Aäron het na die farao toe gegaan en hulle het vir hom gesê die God van die Hebreërs sê vir hom: “Hoe lank nog gaan jy nie luister na My nie? Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan dien.

4. As jy hulle nie laat gaan nie, dan sal Ek môre sprinkane oor jou land bring.

5. Die sprinkane sal die hele land toemaak, jy sal nie die grond kan sien nie. Die sprinkane sal alles opvreet wat oorgebly het nadat dit so baie gehael het. Hulle sal al die blare opvreet wat weer aan die bome gegroei het.

6. Hulle sal oral in jou huise ingaan, ook in die huise van jou amptenare en in die huise van al die Egiptenaars. Julle het nog nooit so baie sprinkane gesien nie, nie julle of julle voorouers nie, vandat hulle hier begin woon het tot vandag toe.”Moses het omgedraai en hy het weggegaan van die farao.

7. Die farao se amptenare het vir hom gesê: “Hoe lank nog gaan jy toelaat dat hierdie man vir ons probleme gee? Jy moet die mans laat gaan sodat hulle die Here, hulle God, kan dien. Jy het gesien dit gaan baie sleg hier in Egipte.”

8. Die amptenare het vir Moses en Aäron teruggebring na die farao toe, en hy het vir Moses en Aäron gesê: “Gaan dien julle God die Here. Maar sê vir my wie sal almal saamgaan.”

9. Moses het gesê: “Ons jongmanne en ou manne gaan almal. Ons kinders en ons skape en bokke en beeste gaan ook, want ons moet ’n fees vir die Here gaan vier.”

10. Die farao het vir hulle gesê: “Ek sal julle vroue en kinders nie saam met julle laat gaan nie. Pasop! Julle maak verkeerde planne.

11. Nee, net die mans mag die Here gaan dien. Dit is wat julle gevra het.”Toe het die farao vir Moses en Aäron weggejaag.

12. Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat daar sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal al die plante opvreet, alles wat oorgebly het nadat dit gehael het.”

13. Moses het sy kierie oor Egipte uitgesteek. Daardie hele dag en die hele nag het die Here die oostewind laat waai. Dit het oggend geword, en die oostewind het die sprinkane gebring.

14. Die sprinkane het oor die hele Egipte gekom en hulle het gaan sit oor die hele land. Daar was groot swerms sprinkane. Daar was nog nooit so baie sprinkane nie, nie voor daardie tyd nie en ook nie daarna nie.

15. Daar was so baie sprinkane dat niemand die grond of die son kon sien nie. Die sprinkane het al die plante van die land opgevreet en ook al die vrugte wat oorgebly het nadat dit gehael het. Daar het in die hele Egipte nie ’n groen blaar oorgebly aan die bome en aan die plante in die veld nie.

16. Die farao het haastig vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God die Here en teen julle.

17. Vergewe asseblief my fout nog een maal en bid tot julle God die Here. Vra dat Hy hierdie sprinkane wat al die plante doodmaak, moet wegvat.”

Eksodus 10