Eksodus 10:11-29 Bybel vir Almal (ABA)

11. Nee, net die mans mag die Here gaan dien. Dit is wat julle gevra het.”Toe het die farao vir Moses en Aäron weggejaag.

12. Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat daar sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal al die plante opvreet, alles wat oorgebly het nadat dit gehael het.”

13. Moses het sy kierie oor Egipte uitgesteek. Daardie hele dag en die hele nag het die Here die oostewind laat waai. Dit het oggend geword, en die oostewind het die sprinkane gebring.

14. Die sprinkane het oor die hele Egipte gekom en hulle het gaan sit oor die hele land. Daar was groot swerms sprinkane. Daar was nog nooit so baie sprinkane nie, nie voor daardie tyd nie en ook nie daarna nie.

15. Daar was so baie sprinkane dat niemand die grond of die son kon sien nie. Die sprinkane het al die plante van die land opgevreet en ook al die vrugte wat oorgebly het nadat dit gehael het. Daar het in die hele Egipte nie ’n groen blaar oorgebly aan die bome en aan die plante in die veld nie.

16. Die farao het haastig vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Ek het verkeerd gedoen teen julle God die Here en teen julle.

17. Vergewe asseblief my fout nog een maal en bid tot julle God die Here. Vra dat Hy hierdie sprinkane wat al die plante doodmaak, moet wegvat.”

18. Moses het weggegaan van die farao en hy het tot die Here gebid.

19. Die Here het die wind verander en ’n baie sterk westewind het begin waai. Die wind het die sprinkane in die Riet-see ingewaai. Daar het nie een sprinkaan oorgebly in die hele Egipte nie.

20. Maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Die farao het nie die Israeliete laat gaan nie.

21. Die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand op in die lug. Dan sal dit donker word in Egipte, pikdonker, sodat jy moet voel waar jy loop.”

22. Moses het sy hand opgesteek in die lug, en toe word dit baie donker in die hele Egipte, drie dae lank.

23. Die Egiptenaars kon mekaar nie sien nie, en drie dae lank moes almal bly waar hulle is. Maar daar was lig in al die Israeliete se woonplekke.

24. Die farao het vir Moses geroep en gesê: “Julle mag die Here gaan dien. Julle vroue en kinders mag saam met julle gaan. Maar julle skape en bokke en julle beeste moet hier bly.”

25. Moses het gesê: “Jy moet self vir ons offers en brand-offers gee om vir ons God die Here te offer.

26. En ons diere moet ook saam met ons gaan. Daar mag nie een dier hier bly nie. Ons weet nog nie watter diere ons vir die Here moet offer nie. Ons sal dit weet nadat ons daar aangekom het.”

27. Die Here het die farao hardkoppig gemaak. Hy wou nie die Israeliete laat gaan nie.

28. Die farao het vir Moses gesê: “Gaan weg van my. Ek wil jou nooit weer sien nie, want as ek jou weer sien, dan sal ek jou doodmaak.”

29. Moses het gesê: “Dit is reg wat jy gesê het, jy sal my nooit weer sien nie.”

Eksodus 10