2. Ek is baie lief vir julle, soos God lief is vir julle. Ek is soos ’n pa wat belowe het dat sy dogter met ’n man sal trou wat die pa vir haar gekies het. Daardie man is Christus. Ek wil hê dat julle soos ’n maagd moet wees, ek wil julle vir Christus gee, julle moet net aan Hom behoort.
3. Maar ek is bang dat iemand julle sal verlei sodat julle nie aanhou om aan Christus te dink nie. Want dan behoort julle nie net aan Hom nie. Dit is soos toe die slang vir Eva verlei het omdat hy so skelm was.
4. Want dit lyk vir my julle glo en aanvaar maklik iemand wat kom en wat vir julle van ’n ander Jesus vertel, nie dieselfde Jesus wat ons vir julle gepreek het nie. Of julle aanvaar miskien ’n ander gees en boodskap, nie die Gees van God en die goeie boodskap wat ons vir julle gebring het nie.
5. Ek dink dat ek ook so goed is soos daardie vals apostels, hulle dink dat hulle beter is as ek.
6. Ek praat miskien nie so goed soos hulle nie, maar ek weet alles wat ek moet weet. Julle het dit gesien toe ons by julle was en toe ons vir julle alles verduidelik het op verskillende maniere.
7. Dink julle ek was verkeerd omdat ek nie geld gevra het nie toe ek die goeie boodskap van God vir julle gepreek het? Party mense dink miskien dat ek myself verneder het, maar dit was omdat julle vir my so belangrik was.
8. Ek het geld van die kerke van die provinsie Masedonië geneem om vir julle te werk.
9. Toe ek by julle was en nie geld gehad het nie, het ek vir niemand van julle gepla en geld gevra nie. Die gelowiges van Masedonië het my gehelp toe hulle in Korinte gekom het. Ek het nooit vir julle geld gevra vir myself nie, en ek sal dit ook nooit doen nie.
10. Ek is trots daarop dat ek nie vir julle geld gevra het nie, en ek sal in die hele provinsie Agaje daaroor praat. Ek praat die waarheid, Christus weet dit.