18. Dit is presies wat julle voorvaders gedoen het, sodat ons God al hierdie onheil oor ons en oor hierdie stad gebring het! Nou vererger julle die toorn wat op Israel rus deur die sabbat te ontheilig!”
19. Ek het toe opdrag gegee dat die poorte van Jerusalem gesluit moes word sodra dit daar begin donker word op die aand voor die sabbat en dat die poorte nie oopgesluit moes word voor ná die sabbat nie. Ek het van my eie dienaars by die poorte geplaas, sodat daar geen vrag op die sabbat sou inkom nie.
20. Toe het die handelaars en smouse 'n keer of twee net buite Jerusalem geslaap.
21. Ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: “Waarom slaap julle hier teen die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle straf.” Daarna het hulle nie weer op die sabbat gekom nie.
22. Ek het die Leviete opdrag gegee om hulle te reinig en die poorte te kom bewaak sodat die sabbatdag heilig gehou sou word.Onthou tog ook dit, my God, ontferm U oor my in u groot liefde!
23. Daardie tyd het ek ook nog Judeërs gesien wat getroud was met vrouens uit Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens.
24. Van hulle kinders het die helfte Asdods gepraat of die taal van 'n ander volk. Judees kon hulle nie praat nie.
25. Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God 'n eed laat aflê: “Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns nie en hulle dogters nie met julle seuns of met julleself nie.
26. Dit was tog hiermee dat koning Salomo van Israel gesondig het! Onder die groot nasies was daar nie 'n koning soos hy nie. Sy God het hom liefgehad en hom koning laat word oor die hele Israel, maar vreemde vrouens het ook vir hom laat sondig.
27. En nou moet ons hoor dat julle hierdie groot kwaad begaan het en ontrou aan ons God geword het deur vreemde vrouens te trou!”
28. 'n Seun van Jojada seun van die hoëpriester Eljasib was die skoonseun van Sanballat die Goroniet. Ek het hom van my af weggejaag.
29. Onthou hulle, my God; hulle het die priesterskap en die plegtige onderneming van die priesters en die Leviete besoedel.
30. Ek het hulle gesuiwer van al wat vreemd was en diensbeurte vir die priesters en Leviete vasgestel, elkeen vir sy werk,
31. en ook die heffings van hout op die vasgestelde tye, en die eerstelinge.Onthou dit tot my voordeel, my God!