4. Die mense wat by Paulus staan, sê toe vir hom: “Skel jy die hoëpriester van God uit?”
5. Daarop antwoord hy: “Ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie, broers. Dit ís soos daar geskrywe staan: Jy mag nie 'n leier van jou volk beledig nie.”
6. Paulus het geweet dat die Raad deels uit Sadduseërs en deels uit Fariseërs bestaan. Hy roep toe in die Raad uit: “Broers, ek is 'n Fariseër en ek kom uit 'n familie van Fariseërs. Dit is oor die verwagting dat die dooies weer sal opstaan dat ek verhoor word.”
7. Toe hy dit sê, het daar rusie tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak.
8. Die Sadduseërs ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is en dat daar engele en geeste bestaan, maar die Fariseërs aanvaar wel albei hierdie dinge.
9. 'n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. 'n Paar skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgespring, heftig beswaar gemaak en gesê: “Ons het niks teen hierdie man nie. Miskien het daar 'n gees of 'n engel met hom gepraat.”
10. Die rusie het so hewig geword dat die kommandant bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het die kommandant sy soldate beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring na die kaserne toe.
11. Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.”
12. Die volgende dag het die Jode 'n komplot teen Paulus gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie.
13. Daar was meer as veertig mense wat so saamgesweer het.
14. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde toe gegaan en gesê: “Ons het 'n dure eed afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie.
15. Julle moet nou namens die Joodse Raad die versoek aan die kommandant rig dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom op pad hierheen dood te maak.”
16. Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel.