Handelinge 23:14-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde toe gegaan en gesê: “Ons het 'n dure eed afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie.

15. Julle moet nou namens die Joodse Raad die versoek aan die kommandant rig dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom op pad hierheen dood te maak.”

16. Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel.

17. Toe laat Paulus een van die kapteins roep en sê vir hom: “Vat hierdie jongman asseblief na die kommandant toe, want hy het 'n boodskap vir hom.”

18. Hy vat hom toe na die kommandant toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my laat roep en my gevra om hierdie jongman na u toe te bring. Hy het iets om vir u te sê.”

19. Die kommandant vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant en vra vir hom: “Wat is dit wat jy my wil vertel?”

20. Hy het geantwoord: “Die Jode het saamgesweer om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, sogenaamd om sy saak noukeuriger te ondersoek.

21. U moet hulle tog nie glo nie, want meer as veertig van hulle wil hom voorlê. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle sit klaar en hulle wag nou net dat u hulle versoek moet toestaan.”

Handelinge 23