Genesis 47:9-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Jakob het vir hom gesê: “Ek is nou al honderd en dertig jaar 'n vreemdeling hier op aarde. In vergelyking met dié van my voorvaders is dit maar min, en my lewensjare was vol swaarkry.”

10. Toe groet Jakob die farao en vertrek.

11. Josef het sy pa en broers in Rameses laat woon. Hy het vir hulle in die beste deel van Egipte eiendom gegee soos die farao hom beveel het.

12. Hy het sy pa en broers, sy hele familie met kinders en al, van kos voorsien.

13. Daar was nêrens meer kos in die land nie, want die hongersnood was swaar. Al die mense van Egipte en Kanaän het daaronder gely.

14. Josef het ál die geld van die land in die hande gekry toe die mense van Egipte en Kanaän daarmee kom graan koop het. Hy het die geld na die farao se paleis toe gevat.

15. Maar toe die geld in Egipte en in Kanaän opraak, het al die Egiptenaars vir Josef kom sê: “U moet vir ons kos laat kry. Waarom moet ons hier voor u doodgaan net omdat ons nie geld het nie?”

16. Josef het vir hulle gesê: “As julle geld op is, moet julle maar julle vee bring, dan gee ek vir julle kos in ruil daarvoor.”

17. Toe bring hulle hulle vee vir Josef, en hy gee vir hulle kos in ruil vir perde en kleinvee en beeste en donkies. Daardie jaar het hy hulle van kos voorsien in ruil vir al hulle vee.

Genesis 47