20. So het Josef al die grond vir die farao opgekoop. Al die Egiptenaars het hulle lande verkoop, want die hongersnood het hulle swaar gedruk. Die land het aan die farao behoort,
21. en die volk het van die een uithoek van Egipte tot by die ander uithoek na die stede toe gekom, na Josef toe.
22. Hy het net nie die priesters se grond gekoop nie, want hulle het 'n vaste inkomste van die farao gekry en hiervan het hulle geleef. Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie.
23. Toe sê Josef vir die volk: “Ek het julle en julle grond nou vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad. As julle dit nou op die lande saai,
24. moet julle 'n vyfde van die opbrengs vir die farao afgee en vier vyfdes is julle s'n. Gebruik dit as saad vir die lande en as kos vir julle en vir wie in julle huise is en vir julle kinders.”
25. Hulle het vir Josef gesê: “U het ons lewe gered. Meneer is ons goedgesind. Ons sal die farao se slawe wees.”
26. Josef het hierdie reëling tot vandag toe 'n vaste instelling in Egipte gemaak: 'n vyfde van die opbrengs kom die farao toe. Net die priesters se grond is uitgesonder. Dit behoort nie aan die farao nie.
27. Israel en sy seuns het in Egipte gebly, in die Gosenstreek. Hulle het dit as hulle eiendom ontvang en hulle was vrugbaar en hulle het baie geword.
28. Jakob het sewentien jaar in Egipte gebly. Hy was dus toe honderd sewe en veertig jaar oud.
29. Toe sy einde nader kom, het hy sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “Bewys my nog 'n laaste guns. Sit jou hand onder my heup en beloof dat jy my met liefde en eerbied sal behandel en my nie in Egipte sal begrawe nie.
30. Wanneer ek sterf, moet jy my uit Egipte wegvat en in die graf van my voorvaders gaan begrawe.”Toe antwoord Josef: “Ek sal doen wat Pa vra.”
31. En Jakob het vir hom gesê: “Bevestig jou belofte met 'n eed.”Toe lê Josef vir hom 'n eed af, en Israel het daar op sy bed gebuig voor God.