13. Die man het verder die wydte van die poortgebou gemeet van waar die dak en die muur van een sykamer aan mekaar raak tot by dieselfde plek aan die teenoorgestelde kant. Die wydte was twaalf en 'n half meter. Die sykamers se ingange was die een reg teenoor die ander.
14. Die man het dieselfde gedoen met die toegangsportaal. Die afstand na die kant van die voorhof toe agter rondom die poortgebou was dertig meter,
15. en regoor die buitenste poortgebou voor die toegangsportaal van die binneste poort was dit vyf en twintig meter.
16. Agter in die sykamers weerskante in die poortgebou en in die mure tussen die sykamers was daar vensteropenings met hortjies. Dit was ook die geval met die toegangsportaal. Daar was vensteropenings rondom in die poortgebou. Teen die mure tussen die vertrekke was daar palmversierings.
17. Daarna het die man my na die buitenste voorhof toe gevat. Rondom die voorhof was daar vertrekke en 'n plaveisel. Daar was dertig vertrekke teenaan die plaveisel.
18. Die plaveisel was weerskante van die poorte en was so breed as wat die poorte lank was. Dit was die onderste plaveisel.
19. Die man het die afstand gemeet tussen die voorkant van die buitenste poort en die buitekant van die binneste voorhof. Dit was vyftig meter aan die ooste- en aan die noordekant.
20. Daarna het hy die lengte en die breedte gemeet van die poortgebou teen die buitenste voorhof, die poort wat noord gekyk het.
21. Die poortgebou het ook weerskante drie sykamers gehad, en die afmetings van sy tussenmure en sy toegangsportaal was dieselfde as dié van die poortgebou wat reeds beskryf is. Dié poortgebou was ook vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd.
22. Sy vensteropenings, sy toegangsportaal en sy palmversierings was net so groot as dié van die poort wat oos gekyk het, en die poort is bereik deur middel van sewe trappe. Agteraan was ook 'n toegangsportaal.
23. Daar was 'n poortgebou teen die binneste voorhof regoor die noordpoort net soos in die geval van die oospoort. Die man het die afstand tussen die buitenste en die binneste poorte gemeet. Dit was vyftig meter.
24. Daarna neem die man my na die suidekant toe, waar die suidpoort was. Hy het die tussenmure en die toegangsportaal van die poortgebou gemeet, en dit was dieselfde as dié in die ander poortgeboue.
25. Net soos die ander, het dié poortgebou se toegangsportaal ook vensteropenings rondom gehad, en was hy vyf en twintig meter lank en twaalf en 'n half meter wyd.
26. Daar was sewe trappe op na die poort toe en agteraan was 'n toegangsportaal. Op elkeen van die tussenmure weerskante was daar 'n palmversiering.