15. “Ek sal nie toelaat dat julle weer die vernederende aanmerkings van ander nasies moet aanhoor en deur hulle verkleineer word nie. Julle sal nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God.
16. Die woord van die Here het tot my gekom:
17. “Mens, toe Israel nog in hulle land gewoon het, het hulle die land verontreinig met hulle optrede en hulle gedrag. Hulle optrede was in my oë net so onrein as 'n vrou wat menstrueer.
18. Ek het my toorn oor hulle laat losbreek oor die bloed wat hulle vergiet het en oor die afgode waarmee hulle die land verontreinig het.
19. Ek het hulle verstrooi onder die ander nasies en hulle na ander lande toe uitmekaargejaag. Ek het hulle gestraf oor hulle optrede en hulle gedrag.
20. En toe hulle daar by die ander nasies kom, het hulle my heilige Naam oneer aangedoen toe die mense van hulle sê: ‘Maar dit is mos die volk van die Here hierdie, hulle kom uit sy land.’
21. Ek is begaan oor my heilige Naam wat oneer aangedoen word deur Israel onder die nasies waar hulle gekom het.
22. Daarom, sê vir Israel: So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het.
23. Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies. Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is,” sê die Here my God.
24. “Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring.
25. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.
26. Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.