Esegiël 20:32-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. Wat in julle gedagtes opgekom het, sal nie gebeur nie. Julle dink: ons wil soos die ander nasies wees, soos die mense in ander lande, ons wil hout en klip dien.

33. “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal oor julle regeer met mag en krag en Ek sal my toorn oor julle laat losbreek.

34. Ek sal julle met mag en krag tussen die volke uitbring en julle bymekaarmaak uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het en my toorn oor julle laat losbreek.

35. Ek sal julle bring na die woestyn tussen Babel en Israel en daar my saak teen julle van aangesig tot aangesig stel.

36. Soos Ek my saak teen julle voorvaders in die woestyn van Egipte gestel het, so sal Ek dit met julle doen,” sê die Here my God.

37. “Ek sal vasstel dat julle almal daar is en julle oordeel op grond van die eise van die verbond.

38. Ek sal dié van julle wat hulle teen My verset en opstandig is, uitsoek en hulle laat trek uit die land waar hulle woon, maar in die land Israel sal hulle nie kom nie. Hulle sal besef dat Ek die Here is.

39. “En wat julle betref, Israel,” sê die Here my God, “loop na julle gode toe, dien hulle, nou en later, as julle nie na My wil luister nie en my heilige Naam nog wil oneer aandoen met julle geskenke aan afgode en met julle afgode self.

40. “Op my heilige berg, op die hoë berg van Israel,” sê die Here my God, “daar, in dié land, sal die hele Israel My dien. Daar sal Ek weer goedgesind wees teenoor hulle en daar sal Ek bereid wees om hulle offergawes, hulle eerstelingoffers en al hulle geskenke aan die heiligdom te ontvang.

41. Die reuk van julle offers sal vir My aanneemlik wees. Wanneer Ek julle onder die volke uit laat trek en julle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek julle verstrooi het, sal Ek My deur julle voor die oë van die nasies laat ken as die Heilige.

42. Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek julle na die land Israel toe bring, na die land wat Ek met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee.

43. Daar sal julle julle optrede en al die dinge waarmee julle julle verontreinig het, in herinnering roep en julle sal 'n weersin in julleself kry oor al die sondige dinge wat julle gedoen het.

44. Wanneer Ek met julle handel soos die eer van my Naam dit vereis en nie volgens julle sondige optrede, julle slegte dade nie, sal julle besef dat Ek die Here is. Dit, Israel, sê die Here my God.”

45. Die woord van die Here het tot my gekom:

46. “Mens, draai jou gesig na die suide toe, laat vloei jou woorde na die suide toe, tree op as profeet teen die bos in die oop veld, die Suidland.

47. Jy moet vir die bos in die Suidland sê: Hoor die woord van die Here!”So sê die Here my God: “Ek gaan jou aan die brand steek. Elke groen boom en elke droë boom in jou gaan verbrand. Die vlamme sal nie geblus word nie, dit sal elke gesig skroei, van die suide van die land af tot in die noorde.

48. Al wat leef, sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie.”

Esegiël 20