Eksodus 18:5-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en sy vrou na hom toe gegaan waar hy in die woestyn by die berg van God kamp opgeslaan het.

6. Jetro het toe vir Moses laat weet: “Ek is jou skoonpa Jetro. Ek kom na jou toe met jou vrou en jou twee seuns.”

7. Moses het toe sy skoonpa gaan ontmoet en voor hom gebuig en hom met 'n soen gegroet. Nadat hulle vir mekaar gevra het hoe dit gaan, het hulle in Moses se tent ingegaan.

8. Daar het Moses vir sy skoonpa alles vertel wat die Here aan die farao en aan Egipte gedoen het ter wille van Israel, en ook van al die ontberings wat die Israeliete op pad gehad het en hoe die Here hulle bevry het.

9. Jetro was bly om te hoor van al die goeie dinge wat die Here vir Israel gedoen het toe Hy hulle uit Egipte se mag bevry het.

12. Jetro, Moses se skoonpa, het brandoffers en ander diereoffers vir God gebring, en daarna het Aäron en al die Israelitiese leiers gekom om saam met Moses se skoonpa aan die offermaaltyd deel te neem.

13. Toe Moses die volgende dag gaan sit om hofsake te verhoor, het daar van die oggend af tot die aand toe mense vir hom gestaan en wag.

14. Maar toe sy skoonpa sien wat Moses alles vir die volk doen, het hy gesê: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?”

15. Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om na die wil van God te vra.

16. As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend.”

17. Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie.

18. Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie.

Eksodus 18