Daniël 11:28-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. “Dan sal die koning van die noorde met baie besittings na sy land toe terugkeer, maar hy sal eers optree teen die gewyde verbondsvolk. Nadat hy dit gedoen het, sal hy teruggaan na sy eie land toe.

29. “Op die bestemde tyd sal hy die suide weer binneval, maar hierdie keer sal dit nie weer gaan soos die vorige keer nie.

30. Skepe van die westelike kuslande sal teen hom optrek en hy sal skrik en omspring. Dan sal hy sy woede kom koel op die gewyde verbondsvolk deur die raad te volg van dié wat afvallig geword het van die gewyde verbondsvolk.

31. Van die koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die daaglikse offer afskaf en 'n ding oprig wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig.

32. Die koning sal dié wat aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot afvalligheid, maar die mense wat hulle God ken, sal vasstaan.

33. Verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense, maar 'n tyd lank sal hulle doodgemaak, verbrand, gevange geneem en geplunder word.

34. Wanneer dit hulle tref, sal hulle 'n bietjie hulp ontvang, en baie sal vir die skyn by hulle aansluit.

35. Dan sal die vervolging party van die verstandige leiers tref sodat die volk gelouter, gesuiwer en gereinig kan word tot die eindtyd toe, want die einde is klaar bepaal.

36. “Die koning van die noorde sal maak soos hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê. Hy sal daarmee aanhou totdat die tyd van God se toorn oor sy volk verby is, want wat besluit is, sal gebeur.

37. Die koning van die noorde sal hom nie steur aan die gode van sy voorgangers of aan die god wat deur vrouens bemin word of aan enige ander god nie, maar sal homself belangriker as hulle almal beskou.

38. Hy sal nie hierdie gode vereer nie, maar die vestinggod, 'n god vir wie sy voorgangers nie geken het nie. Hom sal hy vereer met goud, silwer, edelstene en kosbare geskenke.

Daniël 11