2 Samuel 11:11-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

12. Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.”Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef.

13. Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.

14. Die volgende oggend het Dawid 'n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur.

15. In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija 'n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

16. Terwyl Joab die stad beleër, het hy Urija op 'n plek gesit waar hy geweet het daar is dapper teenstanders.

17. Die burgers van die stad het uitgekom en teen Joab geveg. Daar het van Dawid se soldate gesneuwel, en Urija die Hetiet het ook omgekom.

18. Joab het Dawid laat inlig oor die verloop van die geveg.

19. Hy het die boodskapper beveel: “As jy vir die koning die verloop van die geveg klaar vertel het

20. en net as hy begin kwaad word en jou vra: ‘Waarom het julle so naby die stad gaan veg? Het julle nie gedink aan die mense wat bo van die muur af skiet nie?

21. Wie het vir Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit nie 'n vrou wat 'n maalklip bo van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ dan moet jy sê: Ook u manskap Urija die Hetiet het gesneuwel.”

22. Die boodskapper het vir Dawid alles gaan vertel wat Joab hom beveel het.

23. Hy het vir Dawid gesê: “Die vyand het dapper teen ons geveg. Hulle het tot in die oop veld na ons toe uitgekom en toe ons hulle tot by die stadspoort terugdruk,

24. het die boogskutters bo van die muur af u manskappe begin raakskiet. So het party van die koning se soldate gesneuwel, en ook Urija die Hetiet het so gesterf.”

25. Dawid het die boodskapper beveel: “Sê vir Joab: ‘Jy moet jou dit nie te veel aantrek nie. Dit gebeur nou maar eenmaal so dat mense sneuwel. Veg dapper in jou stryd teen die stad en verwoes dit.’ En praat hom moed in.”

26. Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur.

27. Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

2 Samuel 11