2 Kronieke 29:19-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. en ons het verder al die goed wat koning Agas in sy regeringstyd ontwy laat raak het deur sy troueloosheid, in hulle oorspronklike staat herstel en gewy. Hulle is daar voor die altaar van die Here.”

20. Die volgende môre vroeg het koning Hiskia al die stadsamptenare laat bymekaarkom en is hy na die huis van die Here toe.

21. Hulle het sewe jong bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring as sondeoffers vir die koningskap, die heiligdom en Juda. Die koning het die priesters uit die geslag van Aäron beveel om die offerandes op die altaar van die Here te sit.

22. Die priesters het die beeste geslag, die bloed opgevang en dit oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die skape geslag en die bloed oor die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die lammers geslag en die bloed ook oor die altaar gesprinkel.

23. Toe het hulle die sondeofferbokke voor die koning en die gemeente gebring en hulle hande op die diere gelê,

24. en daarna het die priesters hulle geslag en die bloed as 'n sondeoffer uitgegiet op die altaar om vir die hele Israel versoening te doen. Die koning het bepaal dat die brandoffer en die sondeoffer vir die hele Israel moes wees.

25. Die koning het die Leviete plek laat neem met simbale, harpe en liere in die huis van die Here volgens die opdrag van Dawid en van Gad, die siener van koning Dawid, en van die profeet Natan, want dit was 'n opdrag wat van die Here self gekom het deur middel van sy profete.

26. Die Leviete het reggestaan met die instrumente van Dawid, en die priesters met trompette.

27. Hiskia het opdrag gegee dat die brandoffer op die altaar gesit moet word, en die oomblik toe die offer begin, het die lied van die Here begin, die trompette geblaas en die musiekinstrumente van Dawid koning van Israel gespeel.

28. Terwyl die sang weerklink en die trompette skal, het die hele gemeente in aanbidding gebuig. Dit het alles aangehou tot die offer afgehandel was.

29. Toe die offer afgehandel was, het die koning en almal wat by hom was, gekniel en gebuig.

30. Hy en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf. Die Leviete het die lofliedere vol vreugde gesing en op hulle knieë geval en vooroor gebuig.

2 Kronieke 29