1 Samuel 28:15-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Samuel het vir Saul gevra: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?”En Saul antwoord: “Ek is baie bang, want die Filistyne veg teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie. Daarom het ek u opgeroep om my in te lig oor wat ek moet doen.”

16. Maar Samuel sê: “Waarom raadpleeg jy mý dan as die Here jou verlaat en jou teëstander geword het?

17. Die Here het gedoen soos Hy deur my gesê het. Die Here het die koningskap van jou afgeskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee,

18. want jy het nie die bevel van die Here gehoorsaam nie en sy gloeiende toorn nie op Amalek gewreek nie. Daarom het die Here jou nou hierdie ding aangedoen.

19. Die Here sal Israel saam met jou in die mag van die Filistyne oorgee, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal ook die leër van Israel oorgee in die mag van die Filistyne.”

20. Saul het meteens in sy volle lengte op die grond neergeslaan en hy het baie bang geword vanweë die woorde van Samuel. Hy het geen krag gehad nie, want hy het die hele dag en nag nie geëet nie.

21. Toe het die vrou na Saul toe gekom en gesien dat hy baie bewe en sy het vir hom gesê: “Ek het aan u versoek toegegee en ek het my lewe op die spel geplaas toe ek na u geluister het.

22. Gee dan tog nou toe aan my versoek, en laat ek vir u 'n stukkie kos voorsit. Eet dan, sodat daar weer krag in u kom en u verder kan gaan.”

23. Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie.”Sy manne en ook die vrou het by hom aangedring totdat hy hulle hulle sin gegee het. Hy het van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit.

24. Die vrou het 'n kalf by die huis op stal gehad, en sy het dit gou gaan slag. Sy het ook meel gevat, dit geknie en ongesuurde brood gebak.

25. Sy het dit vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog weggegaan.

1 Samuel 28