Rigters 11:19-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek na my plek toe.

20. Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel geveg.

21. Maar die Here, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het.

22. En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem.

23. So het die Here, die God van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel uit verdrywe, en wil u dit in besit neem?

24. Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as ’n besitting gee, en óns alles wat die Here onse God voor ons uit verdrywe, in besit neem nie?

25. En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg?

26. Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Ároër met sy onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, driehonderd jaar lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie?

27. So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen my oorlog te voer. Mag die Here, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon!

28. Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van Jefta wat hy hom laat weet het nie.

Rigters 11