29. EN toe die skare saamstroom, begin Hy te sê: Hierdie geslag is boos; dit soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.
30. Want soos Jona ’n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag.
31. Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier!
32. Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier!
33. EN niemand steek ’n lamp op en sit dit in ’n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.
34. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.
35. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.
36. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.
37. EN onderwyl Hy besig was om te spreek, het ’n sekere Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet; en Hy het ingekom en aan tafel gegaan.
38. En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie.