6. Maar julle moet die land in sewe dele beskrywe en die beskrywing hier na my toe bring; dan sal ek vir julle die lot werp, hier voor die aangesig van die Here onse God.
7. Want die Leviete het geen aandeel onder julle nie, omdat die priesterskap van die Here hulle erfdeel is; en Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel ontvang oorkant die Jordaan in die ooste, wat Moses, die kneg van die Here, hulle gegee het.
8. Die manne het toe klaargemaak en gegaan; en by hulle vertrek het Josua hulle bevel gegee om die land te beskrywe, met die woorde: Gaan heen, trek rond in die land en beskrywe dit, en kom na my terug; dan sal ek hier vir julle die lot werp voor die aangesig van die Here in Silo.
9. En die manne het gegaan en die land deurgetrek en dit in ’n boek beskrywe, volgens die stede, in sewe dele, en na Josua gekom in die laer van Silo.
10. Toe het Josua vir hulle die lot gewerp in Silo, voor die aangesig van die Here; en Josua het die land daar onder die kinders van Israel verdeel volgens hulle afdelings.
11. EN die lot het opgekom van die stam van die kinders van Benjamin volgens hulle geslagte; en die gebied wat vir hulle deur die lot aangewys is, het uitgekom tussen die kinders van Juda en die kinders van Josef;
12. en hulle lyn aan die noordekant was: van die Jordaan af; dan loop die lyn op na die noordelike hang van Jérigo, en dit loop op in die gebergte in westelike rigting en loop dood by die woestyn van Bet-Awen;
13. en daarvandaan loop die lyn oor na Lus, na die suidelike hang van Lus, dit is Bet-el; verder loop die lyn af na Atrot-Addar, op die gebergte wat suid lê van Bet-Horon-Onder;
14. dan buig die lyn om en swaai na die westekant, teen suid, van die gebergte wat suid teenoor Bet-Horon lê; verder loop dit dood by Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jeárim, die stad van die kinders van Juda; dit is die westekant;
15. en die suidekant begin by die uiteinde van Kirjat-Jeárim; en die lyn loop aan in die weste en dan na die waterfontein van Neftóag;
16. dan loop die lyn af na die uiteinde van die berg wat teenoor die dal Ben-Hinnom, noordelik in die dal van die Refaïete lê; dan loop dit af na die dal Hinnom, na die suidelike hang van die Jebusiete, en loop af na die fontein Rogel;
17. verder buig dit noord om en loop aan na die fontein Semes; dan loop dit aan na die klipkrale wat teenoor die hoogte van Adúmmim lê, en loop af na die klip van Bohan, die seun van Ruben;