1. VERDER was dít die lot vir die stam van Manasse, omdat hy die eersgeborene van Josef was: Magir, die eersgeborene van Manasse, die vader van Gílead, het, omdat hy ’n krygsman was, Gílead en Basan ontvang;
2. ook die ander kinders van Manasse, volgens hulle geslagte, het ’n aandeel ontvang: die kinders van Abiëser en die kinders van Helek en die kinders van Ásriël en die kinders van Segem en die kinders van Hefer en die kinders van Semída; dit is die manlike kinders van Manasse, die seun van Josef, volgens hulle geslagte.
3. Maar Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, het nie seuns gehad nie, maar net dogters; en dit is die name van sy dogters: Magla en Noa, Hogla, Milka en Tirsa;
4. en hulle het nader gekom voor Eleásar, die priester, en voor Josua, die seun van Nun, en voor die owerstes, en gesê: Die Here het Moses beveel om ons ’n erfdeel te gee onder ons broers. Daarop het hy hulle ’n erfdeel gegee, volgens die bevel van die Here, onder die broers van hulle vader.
5. So het dan aan Manasse tien aandele geval, behalwe die land Gílead en Basan wat oorkant die Jordaan lê.
6. Want die dogters van Manasse het ’n erfdeel ontvang onder sy seuns, terwyl die land Gílead aan die ander kinders van Manasse behoort het.
7. En die lyn van Manasse was: van Aser af na Mígmetat, teenoor Sigem; dan loop die lyn regs na die inwoners van En-Tappúag —
8. die landstreek van Tappúag het behoort aan Manasse, maar Tappúag, aan die grens van Manasse, aan die kinders van Efraim —;
9. verder loop die lyn af na die spruit Kana, suid van die spruit: daardie stede, onder die stede van Manasse, behoort aan Efraim; en die lyn van Manasse is noord van die spruit en loop dood by die see.
10. Suid behoort dit aan Efraim, maar noord aan Manasse; en die see is sy lyn; dan raak hulle in die noorde aan Aser en in die ooste aan Íssaskar.
11. En aan Manasse behoort in Íssaskar en Aser: Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van En-Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van Táänag met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met sy onderhorige plekke, die drie hoogtes.