13. Daarom sal die woord van die Here vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.
14. Daarom, hoor die woord van die Here, julle spotters, heersers oor hierdie volk wat in Jerusalem is!
15. Omdat julle sê: Ons het ’n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ’n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek —
16. daarom, so sê die Here Here: Kyk, Ek lê in Sion ’n grondsteen, ’n beproefde steen, ’n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.
17. En Ek sal die reg tot ’n riglyn maak, en die geregtigheid tot ’n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel.
18. En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die doderyk nie standhou nie; as die golwende gésel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word.
19. So dikwels as hy deurtrek, sal hy julle gryp; want môre vir môre sal hy deurtrek, by dag en by nag. En dit sal net verskrikking wees om so ’n openbaring te verneem.
20. Want die bed sal te kort wees dat iemand hom daarop kan uitrek, en die kombers te smal dat iemand hom daarin kan toedraai.
21. Want die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen — vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig — ongehoord is sy daad!
22. Gedra julle dan nou nie soos spotters, dat julle bande nie vaster word nie; want ek het van die Here Here van die leërskare gehoor ’n verdelging wat vas besluit is, oor die hele aarde.
23. Luister, en hoor na my stem; let op, en hoor my woord!
24. Ploeg die ploeër die hele dag om te saai? Skeur hy sy akker oop, en eg hy die hele dag?
25. Is dit nie só nie: As hy dit bo-op gelykgemaak het, gooi hy swart komyn uit en strooi komyn en saai koring in rye en gars in vakke en spelt langs die kant.
26. En sy God het hom onderrig hoe om dit te doen, Hy leer hom.
27. Want swart komyn word nie met die slee gedors nie, en die wawiel word nie oor komyn gerol nie; maar swart komyn word uitgeslaan met ’n stok en komyn met ’n hout.
28. Word broodkoring fyngestamp? Nee, nie altyddeur dors hulle dit nie; en al dryf hulle die wawiel en die perde daaroor — hulle stamp dit nie fyn nie.
29. Ook dit kom van die Here van die leërskare: Hy is wonderbaar van raad, groot van beleid.