4. Laat my mense wat verdryf is, by jou vertoef! Aangaande Moab, wees vir hulle ’n skuilplek vanweë die verwoester. Want gedaan is die verdrukker, klaar is dit met die verwoesting, weg is die vertrappers uit die land!
5. En opgerig is deur goedgunstigheid ’n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ’n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.
6. Ons het gehoor van die trotsheid van Moab — hy is baie trots! — van sy hoogmoed en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpratery.
7. Daarom sal Moab oor Moab huil, almal saam huil; oor die druiwekoeke van Kir-Haréset sal julle sug, heeltemal verslae.
8. Want die wingerde van Hesbon het verwelk; die wingerdstok van Sibma — sy edele druiwe het die beheersers van die nasies neergewerp; dit het gekom tot by Jaéser, dit het in die woestyn ingedwaal; sy ranke het uitgesprei, het oor die see gegaan.
9. Daarom beween ek die wingerdstok van Sibma met die geween van Jaéser; ek maak jou nat met my trane, Hesbon en Eleále, omdat die vreugdegeroep jou somervrugte en jou oes oorval het,
10. en vreugde en gejuig weggeneem is uit die vrugteboord, en in die wingerde nie gejubel of gejuig word nie; die druiwetrapper trap geen wyn in die parskuipe nie; Ek het die vreugdegeroep laat ophou.
11. Daarom klaag my ingewande oor Moab soos ’n siter, en my binneste oor Kir-Heres.
12. En as Moab verskyn, as hy hom vermoei op die hoogte en in sy heiligdom ingaan om te aanbid, dan sal hy niks uitrig nie.
13. Dit is die woord wat die Here tevore teen Moab gespreek het.