Jeremia 3:16-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die Here, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die Here nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie.

17. In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.

18. In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het.

19. Ék het wel gedink: o Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ’n kosbare land, ’n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie.

20. Maar soos ’n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die Here.

21. ’n Stem is gehoor op die kaal heuwels, smekende geween van die kinders van Israel, omdat hulle hul weg verdraai het, die Here hulle God vergeet het.

22. Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die Here onse God.

23. Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die Here onse God is Israel se heil.

24. Maar die Skandegod het die goed van ons vaders opgeëet van ons jeug af, hulle kleinvee en hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters.

25. Ons wil neerlê in ons skande, en ons smaad moet ons oordek; want ons het teen die Here onse God gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie geluister na die stem van die Here onse God nie.

Jeremia 3