Exodus 8:17-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland.

18. En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op die vee.

19. Toe sê die towenaars vir Farao: Dit is die vinger van God! Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos die Here gespreek het.

20. VERDER het die Here vir Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao — kyk, hy sal na die water toe uitgaan — en sê vir hom: So spreek die Here: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.

21. Want as jy my volk nie laat trek nie, kyk, dan stuur Ek teen jou en teen jou dienaars en teen jou volk en teen jou huise die steekvlieë, sodat die huise van die Egiptenaars vol steekvlieë sal wees, en selfs die grond waar hulle op staan.

22. Maar Ek sal op dié dag met die land Gosen, waarin my volk woon, ’n uitsondering maak, dat daar geen steekvlieë sal wees nie; sodat jy kan weet dat Ek die Here is in die land.

23. En Ek sal ’n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.

24. En die Here het so gedoen: dik swerms steekvlieë het in die huis van Farao en in die huis van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; die land is deur die steekvlieë verwoes.

25. Toe laat Farao Moses en Aäron roep en sê: Gaan heen, offer aan julle God in die land.

26. Maar Moses antwoord: Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die Here onse God offer, is ’n gruwel vir die Egiptenaars. As ons iets wat ’n gruwel is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie?

27. Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die Here onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.

28. Toe sê Farao: Ek sal julle laat trek, dat julle aan die Here julle God kan offer in die woestyn; julle moet maar net nie te ver wegtrek nie. Bid vir my.

29. En Moses antwoord: Kyk, ek gaan van u af weg en sal tot die Here bid, dat die steekvlieë môre Farao, sy dienaars en sy volk mag verlaat. Laat Farao ons net nie langer bedrieg deur die volk nie te laat trek om aan die Here te offer nie.

30. Toe het Moses van Farao af weggegaan en tot die Here gebid.

31. En die Here het gedoen volgens die woord van Moses: Hy het die steekvlieë van Farao, van sy dienaars en sy volk weggeneem. Daar het nie een oorgebly nie.

32. Maar Farao het sy hart ook hierdie keer verhard en die volk nie laat trek nie.

Exodus 8