Eségiël 16:7-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Ontelbaar, soos die uitspruitsels van die veld, het Ek jou gemaak! En jy het gegroei en groot geword en die hoogste bloei bereik; jou borste het styf geword, en jou hare het gegroei, maar jy was naak en bloot.

8. En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou ’n verbond aangegaan, spreek die Here Here, en jy het myne geword.

9. Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf.

10. Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy.

11. Verder het Ek jou met sierade versier en armbande aan jou hande gesit en ’n ketting om jou hals.

12. En Ek het ’n ring aan jou neus gesit en oorringe aan jou ore en ’n pragtige kroon op jou hoof.

13. Ja, jy het jou versier met goud en silwer, en jou klere was fyn linne en sy en veelkleurige stowwe; jy het fynmeel en heuning en olie geëet, en jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het.

14. Daarby het daar ’n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here Here.

15. Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het, dat dit syne sou wees.

16. En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer — dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie.

17. Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer.

18. En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit.

19. En my brood wat Ek jou gegee het — fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het — dit het jy voor hulle neergesit as ’n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here Here.

20. Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie,

21. dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het?

22. Ook het jy by al jou gruwels en jou hoererye nie gedink aan die dae van jou jeug nie, toe jy naak en bloot was en gelê en spartel het in jou bloed.

23. En ná al jou boosheid — wee, wee jou! spreek die Here Here —

24. het jy vir jou ’n verwulf gebou en vir jou ’n hoogte gemaak op elke plein;

25. by elke uitdraaiplek het jy jou hoogte gebou en jou skoonheid geskend en jou sonder skaamte aangebied aan elkeen wat verbygaan, en jy het jou hoererye vermenigvuldig.

26. Jy het ook gehoereer met die kinders van Egipte, jou baie sinlike nabure; en jy het jou hoerery vermenigvuldig om My te terg.

27. En kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek en die vir jou bestemde deel verminder; en Ek het jou oorgegee aan die hebsug van die wat jou haat, die dogters van die Filistyne wat hulle geskaam het oor jou ontugtige wandel.

Eségiël 16