26. En hy antwoord: My heer die koning, my dienaar het my bedrieg; want u dienaar het gedink: Ek wil vir my die esel laat opsaal, dat ek daarop kan ry en met die koning kan saamtrek, want u dienaar is lam.
27. Hy het ewenwel u dienaar by my heer die koning belaster, maar my heer die koning is soos ’n engel van God: doen dan wat goed is in u oë.
28. Want my hele familie was by my heer die koning niks anders as manne wat die dood verdien nie; tog het u u dienaar opgeneem onder die wat aan u tafel eet: watter regsaanspraak het ek dan nog meer om my verder op die koning te beroep?
29. Toe sê die koning vir hom: Waarom nog meer woorde? Ek sê: Jy en Siba moet die grond verdeel.
30. En Mefibóset het die koning geantwoord: Hy kan ook alles neem nadat my heer die koning behoue in sy huis gekom het.
31. Barsíllai, die Gileadiet, het ook afgekom van Rógelim en met die koning oor die Jordaan getrek om hom oor die Jordaan weg te bring.
32. En Barsíllai was baie oud, ’n man van tagtig jaar, en hy het die koning onderhou gedurende sy verblyf in Mahanáim, want hy was ’n baie vermoënde man.
33. Toe sê die koning vir Barsíllai: Trek jy saam met my oor, dan sal ek jou by my in Jerusalem onderhou.
34. Maar Barsíllai het die koning geantwoord: Hoeveel sal die dae van my lewensjare dan wees, dat ek saam met die koning moet opgaan na Jerusalem?
35. Ek is vandag tagtig jaar oud. Kan ek tussen goed en kwaad onderskei? of sal u dienaar kan proe wat ek eet en wat ek drink? of sal ek nog kan aanhoor die stem van die sangers en die sangeresse? Waarom sal u dienaar my heer die koning dan nog tot ’n las wees?
36. U dienaar kan net ’n entjie saam met die koning trek oor die Jordaan. Waarom tog sou die koning hierdie vergelding aan my doen?
37. Laat u dienaar tog maar omdraai, dat ek kan sterf in my stad by die graf van my vader en my moeder; maar hier is u dienaar Kimham. Laat hy saam met my heer die koning oortrek, en doen aan hom wat goed is in u oë.
38. En die koning sê: Kimham kan saam met my oortrek, dan sal ek aan hom doen wat goed is in jou oë, en alles wat jy verkies om aan my op te dra, sal ek vir jou doen.