2 Samuel 18:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Dawid het die manskappe gemonster wat by hom was, en owerstes oor duisend en owerstes oor honderd oor hulle aangestel.

2. En Dawid het die manskappe uitgestuur: ’n derde deel onder bevel van Joab, en ’n derde onder Abísai, die seun van Serúja, die broer van Joab, en ’n derde onder Íttai, die Gittiet; en die koning het aan die manskappe gesê: Ek sal ook seker saam met julle uittrek.

3. Maar die manskappe het gesê: U mag nie uittrek nie, want as ons miskien vlug, sal hulle nie op ons ag gee nie; ja, al sterwe die helfte van ons, hulle sal nie op ons ag gee nie, want u is soos tienduisend van ons. Dit is dan nou beter dat u ons van die stad uit te hulp kom.

4. Toe sê die koning vir hulle: Wat goed is in julle oë, sal ek doen. En die koning het langs die poort gaan staan, terwyl al die manskappe by honderde en by duisende uittrek.

5. En die koning het Joab en Abísai en Íttai bevel gegee en gesê: Saggies met die jongman, met Absalom. En al die manskappe het gehoor toe die koning aan al die owerstes bevel gee omtrent Absalom.

6. Daarop trek die manskappe uit, die veld in om Israel te ontmoet; en die geveg het plaasgevind in die bos van Efraim.

7. En die manskappe van Israel is daar voor die dienaars van Dawid verslaan, en die neerlaag was dié dag daar groot, twintigduisend.

8. Maar die geveg is daar uitgebrei oor die oppervlakte van die hele land, en die bos het daardie dag onder die mense meer verteer as wat die swaard verteer het.

9. En die dienaars van Dawid het Absalom onverwags aangetref terwyl Absalom op ’n muil ry; en toe die muil onder die digte takke van ’n groot terpentynboom ingaan, het sy hoof in die terpentynboom vasgehaak, sodat hy tussen hemel en aarde bly hang het, terwyl die muil onder hom wegloop.

10. Toe die man dit sien, het hy aan Joab berig gebring en gesê: Kyk, ek het Absalom aan ’n terpentynboom sien hang.

11. En Joab sê vir die man wat hom die berig gebring het: En as jy dit gesien het, waarom het jy hom dan nie daar teen die grond neergeslaan nie? Dan moes ek jou tien silwerstukke en een gord gegee het.

12. Maar die man sê vir Joab: Al kon ek ook duisend silwerstukke op my hande weeg, ek sou my hand tog nie uitsteek teen die seun van die koning nie; want die koning het u en Abísai en Íttai voor ons ore bevel gegee en gesê: Julle, wie dan ook, moet vir die jongman Absalom sorg.

13. Of as ek vals teen sy lewe gehandel het — niks tog bly vir die koning verborge nie — dan sou u opsy gestaan het.

2 Samuel 18