2 Samuel 15:22-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Toe sê Dawid vir Íttai: Gaan, trek dan verby! En Íttai, die Gittiet, het verbygetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.

23. En die hele land het hardop gehuil terwyl al die mense verbytrek; en die koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad na die woestyn.

24. En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergesit — Ábjatar het ook opgetrek — totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.

25. Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die Here, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien.

26. Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie — hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë.

27. Verder het die koning aan die priester Sadok gesê: U is tog siener? Gaan in vrede na die stad terug, en julle twee seuns, Ahímaäs, jou seun, en Jónatan, die seun van Ábjatar, met julle saam.

28. Kyk, ek vertoef by die woestyndriwwe totdat daar ’n woord van julle kom om my in te lig.

29. En Sadok en Ábjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar gebly.

30. En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween.

31. Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitófel is onder die samesweerders met Absalom saam, het Dawid gesê: o Here, verydel tog die raad van Agitófel!

2 Samuel 15