2 Samuel 14:1-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE Joab, die seun van Serúja, merk dat die hart van die koning aan Absalom verkleef was,

2. het Joab na Tekóa gestuur en daarvandaan ’n skrander vrou laat haal en aan haar gesê: Stel jou tog aan soos een wat treur, en trek rouklere aan; en salf jou nie met olie nie, maar hou jou soos ’n vrou wat al baie dae rou oor ’n dode.

3. Gaan dan na die koning en spreek met hom volgens hierdie woord. En Joab het die woorde in haar mond gelê.

4. En die vrou uit Tekóa het by die koning ingekom en op haar aangesig op die grond geval en gebuig en gesê: Help, o koning!

5. Toe vra die koning haar: Wat wil jy hê? En sy sê: Voorwaar, ek is ’n weduwee en my man is dood.

6. En u dienares het twee seuns gehad, en hulle twee het met mekaar geveg in die veld; en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie, sodat die een die ander neergeslaan en hom gedood het.

7. En kyk, toe staan die hele geslag op teen u dienares, en hulle sê: Gee hom wat sy broer doodgeslaan het, dat ons hom kan doodmaak vir die lewe van sy broer wat hy vermoor het, ja, ook die erfgenaam kan verdelg. So wil hulle dan my vuurkool wat oorgebly het, uitdoof om vir my man geen naam of oorblyfsel op die aardbodem te laat bly nie.

8. En die koning antwoord die vrou: Gaan na jou huis, en ek sal oor jou bevel gee.

9. Daarop sê die vrou uit Tekóa aan die koning: Op my, my heer die koning, en op my familie sal die skuld rus, maar die koning en sy troon is onskuldig.

10. En die koning antwoord: Elkeen wat met jou spreek, moet jy na my bring, dan sal hy jou verder nie meer aanraak nie.

11. En sy sê: Laat die koning tog dink aan die Here u God, sodat die bloedwreker nie te veel vernieling aanrig en hulle my seun nie verdelg nie. Toe sê hy: So waar as die Here leef, nie een haar van jou seun sal op die grond val nie!

12. En die vrou vra: Laat u dienares tog ’n woord met my heer die koning spreek. En hy antwoord: Spreek.

13. Toe sê die vrou: Waarom het u dan so iets bedink teen die volk van God? Want daardeur dat die koning hierdie woord spreek, is hy soos ’n skuldige deurdat die koning sy eie verstotene nie laat terugkom nie.

14. Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat ’n mens nie weer kan versamel nie; en God neem die lewe nie weg nie, maar Hy koester gedagtes om ’n verstotene nie van Hom af te stoot nie.

15. Dat ék dan nou kom om hierdie woord met my heer die koning te spreek, was omdat die volk my bevrees gemaak het. Maar u dienares het gedink: Laat ek tog met die koning gaan spreek; miskien sal die koning die wens van u dienares uitvoer.

16. Want die koning sal seker luister om sy dienares te red uit die hand van die man wat probeer om my en my seun saam uit die erfdeel van God uit te roei.

17. Verder het u dienares gedink: Mag tog die woord van my heer die koning tot gerusstelling wees. Want soos ’n engel van God, so is my heer die koning om goed en kwaad te verstaan. En mag die Here u God met u wees!

2 Samuel 14