2 Samuel 10:7-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur.

8. En die kinders van Ammon het uitgetrek en die slagorde opgestel by die ingang van die poort, terwyl die Arameërs van Soba en Rehob en die manne van Tob en Máäga afsonderlik in die veld was.

9. Toe Joab sien dat ’n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy uit al die uitgesoektes in Israel ’n keuse gedoen en hulle opgestel teenoor die Arameërs.

10. Maar die ander manskappe het hy onder bevel van sy broer Abísai geplaas en dié het hulle opgestel teenoor die kinders van Ammon.

11. En hy het gesê: As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek kom om jou te help.

12. Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë!

13. Daarop het Joab en die manskappe wat by hom was, nader gekom om teen die Arameërs te veg, en hulle het vir hom gevlug.

14. Toe die kinders van Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir Abísai gevlug en die stad ingegaan. En Joab het van die kinders van Ammon af omgedraai en in Jerusalem aangekom.

15. Toe die Arameërs dan sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle dig aaneengesluit.

16. Ja, Hadaréser het gestuur en die Arameërs van oorkant die Eufraat laat uittrek, en hulle het in Helam aangekom, met Sobag, die leërowerste van Hadaréser, op hulle voorpunt.

17. Intussen het Dawid daarvan berig gekry en die hele Israel versamel en deur die Jordaan getrek en in Helam aangekom; en die Arameërs het hulle teenoor Dawid opgestel en teen hom geveg.

18. Maar die Arameërs het vir Israel gevlug, en Dawid het van die Arameërs sewehonderd trekperde en veertigduisend ruiters gedood, en Sobag, die leërowerste, so gewond, dat hy daar gesterf het.

19. En toe al die onderhorige konings van Hadaréser sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle met Israel vrede gesluit en hulle gedien; en die Arameërs was bevrees om die kinders van Ammon langer te help.

2 Samuel 10