16. As die eerste stukkie deeg aan God geoffer word, beteken dit dat die hele baksel eintlik aan Hom behoort. Net so, as die wortels van die boom aan God gewy is, sal die takke ook aan Hom behoort.
17. Party van die takke van hierdie boom – van die Joodse takke – is uitgekap en jy, die wilde olyf, is op die mak boom geënt. So deel jy ook nou in die lewensap wat van die mak olyf se onderstam af opstoot.
18. Maar oppas om jou bors hieroor uit te stoot. Dit is immers nie jy wat die onderstam dra nie, maar juis andersom.
19. Jy kan dalk sê: “Die takke is uitgekap sodat ek geënt kan word.”
20. Toegegee – hulle is egter as gevolg van hulle ongeloof uitgekap terwyl jy nou daar is omdat jy glo. Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein voor God.
21. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan Hy jou dalk ook nie spaar nie.
22. Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak. Anders kan jy ook afgesny word.
23. En as die Jode nie volhard in hulle ongeloof nie, sal God hulle weer op die olyfboom terug-ent. Hy besit die mag om dit te kan doen.
24. Want as God bereid was om julle, wat van nature takke van die wilde olyf was, af te sny en julle op die mak olyf oor te ent – wat ’n baie ongewone ding was om te doen – hoeveel eerder sal Hy nie die Jode wil terug-ent op die boom waar hulle hoort nie!