Rigters 6:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Sodra hulle iets geplant het, het die Midianiete, Amalekiete en die ander mense uit die ooste op hulle toegesak en hulle aangeval.

4. Hulle het daar kom kamp opslaan en alles wat in die grond was, vernietig, selfs so ver as tot by Gasa. Hulle het nie ’n ding agtergelaat waarvan Israel kon lewe nie, selfs nie eers ’n skaap of ’n bees of ’n donkie nie.

5. Die hordes Midianiete het met hulle veetroppe gekom en soos ’n swerm sprinkane hulle tente oral opgeslaan. Hulle kamele kon nie eers getel word nie. Waar hulle ook al gekom het, het hulle die land kaalgestroop.

6. As gevolg van die Midianiete was die Israeliete totaal teen die grond. Die Israeliete het toe by die Here om hulp begin smeek.

7. Toe die Israeliete vanweë die Midianiete so by die Here begin soebat om hulle te help,

8. het Hy ’n profeet na hulle gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, vir julle sê: ‘Ek het julle uit Egipte laat trek. Ek het julle bevry van die slawerny in Egipte.

9. Ek het julle gered uit die hand van Egipte en hulle wat julle onderdruk het. Ek het hulle voor julle uit verdryf en Ek het hulle land vir julle gegee.

10. Ek het vir julle gesê: Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie. Maar julle wou nie na My luister nie.’”

11. Die Engel van die Here het onder die eikeboom in Ofra kom sit. Dit het aan Joas van die Abiëserfamilie behoort. Sy seun Gideon was besig om onder op die vloer van ’n parskuip koring uit te slaan. Hy het daar vir die Midianiete weggekruip.

12. Die Engel van die Here het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

Rigters 6