10. “Sê vir die Israeliete: As dit tyd is vir die Paasfees en iemand het onrein geword omdat hy ’n lyk moes hanteer, of hy is ver weg van die huis af, mag hy nog steeds die Paasfees vier.
11. Hulle moet dit egter ’n maand later vier op die veertiende dag teen skemeraand. Hulle moet op daardie dag die Paaslam eet saam met die ongesuurde brood en die bitter kruie.
12. Daar mag niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Hulle mag ook nie die lam se bene breek nie. Hulle moet verder al die gewone voorskrifte vir die Paasfees volg.
13. “Dié wat nie onrein is nie, en nie weg is van die huis af nie, en nogtans nalaat om die Paasfees te vier, sal uit my volk verban word. Hulle het nie op die bepaalde tyd die Here se offer gebring nie. Hulle sal die gevolge van hulle oortreding moet dra.
14. As iemand wat van buite die land kom, tydelik by julle oorbly en ook die Paasfees vir die Here wil vier, moet hy presies dieselfde voorskrifte en reëls volg. Een en dieselfde stel reëls geld vir sowel die vreemdeling as die permanente inwoner van die land.”
15. Die dag toe die tabernakel opgerig is, het ’n wolk daaroor kom hang. Gedurende die nag het dit gelyk soos ’n bondel vuur.
16. So het dit altyd gebly: ’n wolk in die dag en iets wat soos vuur lyk in die nag.
17. Wanneer die wolk van die tent af opgelig het, het die Israeliete kamp opgebreek en dit gevolg. Waar die wolk gaan staan het, daar het die Israeliete kamp opgeslaan.
18. Op bevel van die Here het die Israeliete getrek en op sy bevel weer kamp opgeslaan. So lank as wat die wolk oor die tabernakel bly hang het, het hulle daar bly kamp.
19. As die wolk vir ’n lang tyd oor die tabernakel bly hang het, het die Israeliete net daar gebly en nie verskuif nie.
20. Dit het soms gebeur dat die wolk net vir ’n paar dae oor die tabernakel stilgestaan het. So het hulle op die Here se bevel stilgestaan en weer verder getrek as Hy so beveel het.