Numeri 31:7-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Hulle het gaan oorlog maak teen die Midianiete soos die Here vir Moses gesê het. Hulle het al die mans doodgemaak.

8. Die vyf Midianitiese konings Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba is in die geveg dood. Die Israeliete het ook vir Bileam, die seun van Beor, doodgemaak.

9. Hulle het die Midianitiese vroue met hulle kinders gevange geneem. Hulle het ook al hulle beeste, vee en eiendom buitgemaak.

10. Hulle het al die stede waar die Midianiete gewoon het en die gehuggies waar hulle oorgebly het, met vuur verbrand.

11. Die Israeliete het almal wat hulle gevange geneem het, en alles wat hulle onder die mense en diere geplunder het, saam met hulle gevat.

12. Hulle het dit vir Moses en die priester Eleasar en die gemeenskap van Israel gebring waar hulle kamp opgeslaan het op die Moabsvlakte langs die Jordaan reg teenoor Jerigo.

13. Moses, die priester Eleasar en al die leiers van die gemeenskap het hulle buite die kamp gaan ontmoet.

14. Moses was kwaad vir die aanvoerders van die leër wat van die veldslag af teruggekom het.

15. Moses het vir hulle gevra: “Waarom het julle al die vroue laat bly leef?

16. Dit is hulle wat Bileam se raad gevolg het en veroorsaak het dat die Israeliete by Peor aan die Here ontrou was. Hulle is die oorsaak dat die plaag van die Here oor ons gekom het!

17. Maak nou al die seuntjies dood en ook elke vrou wat al by ’n man geslaap het.

18. Laat elke vrou bly leef wat nog ’n maagd is. Julle mag hulle vir julle as vroue vat.

19. Elkeen van julle wat iemand doodgemaak het, of aan ’n lyk gevat het, moet sewe dae lank buite die kamp bly. Julle moet julleself en die mense wat julle gevange geneem het op die derde en die sewende dag reinig.

20. Was al julle klere en reinig alles wat van leer, bokhaar of hout gemaak is.”

21. Die priester Eleasar het toe vir die mans wat gaan oorlog maak het, gesê: “Die voorskrif wat die Here vir Moses gegee het, is:

22. Enigiets wat van goud, silwer, brons, yster, tin, of lood gemaak is,

Numeri 31