Numeri 18:9-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Die dele van die heel heiligste offers wat nie in die vuur geoffer word nie, is joune. Daardie gedeeltes van die maaltydoffer, sonde-offer en skuldoffer wat die volk vir My bring, kom jou en jou seuns toe.

10. Julle kan dit eet. Julle moet dit egter sien as iets wat besonder heilig is. Al die mans mag daarvan eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees.

11. “Die offers wat die Israeliete vir My bring wat na My uitgehou word by die altaar, behoort ook aan jou. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters. Dit is ’n vaste instelling. Almal in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

12. “Al die beste olyfolie, wyn en graan wat vir die Here gebring word, gee Ek ook vir jou.

13. Die eerste oes van die land wat hulle vir die Here bring, is ook joune. Almal in jou huis wat rein is, mag dit eet.

14. Enigiets of iemand wat spesiaal aan die Here afgestaan is, word ook joune.

15. Elkeen, mens of bees, wat eerste gebore word en wat aan die Here afgestaan word, is ook joune. Onthou dat elke mens wat eerste gebore word, losgekoop moet word. Onrein diere se eersteling moet ook losgekoop word.

16. Koop hulle los wanneer hulle ’n maand oud is. Die loskoopprys is 50 gram silwer. Dit is volgens die standaardgewig van die heiligdom.

17. Jy mag nie die eersgeborene van ’n bees, ’n skaap of ’n bok loskoop nie. Hulle behoort aan die Here. Hulle bloed moet teen die altaar gesprinkel word en hulle vet as ’n vuuroffer gebring word. Dit is aangenaam vir die Here.

18. Jy kan egter hulle vleis vat. Dit is joune, net soos die borsstuk en die regterboud van die offer wat na die Here toe uitgehou word, ook aan jou behoort.

19. Al hierdie heilige offers wat die Israeliete vir die Here bring, gee Ek vir jou en jou kinders. Dit sal altyd julle deel wees. Dit is ’n onverbreekbare ooreenkoms tussen die Here en jou en jou nageslag.”

20. Die Here het vir Aäron gesê: “Jy sal nie grond kry in julle land nie. Jy sal nie saam met jou volk eiendom besit nie. Ek is jou erfporsie en jou aandeel in Israel.

21. Vir die werk wat hulle by die tabernakel doen, vergoed Ek die stam van Levi met al die tiendes wat Israel bring.

22. “Die Israeliete mag van nou af nie meer by die tabernakel kom nie. Dit sal as ’n oortreding beskou word wat lei tot die dood.

23. Die Leviete moet by die tabernakel werk. Hulle dra die verantwoordelikheid daarvoor. Dit is ’n onveranderlike wet. Hulle sal egter nooit enige grond tussen die Israeliete besit nie.

Numeri 18