Matteus 21:10-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in beroering. Hulle het gevra: “Wie is hierdie man?”

11. Die skare het geantwoord: “Hy is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea.”

12. Jesus het tempel toe gegaan en al die handelaars en hulle kliënte uitgejaag. Hy het die tafels van die bankiers en die hokkies van die duiweverkopers onderstebo gegooi

13. en vir hulle gesê: “Daar staan in die Skrif geskryf: ‘My huis is bedoel om ’n huis van gebed te wees, maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak.’”

14. Blinde en verlamde mense het daar op die tempelterrein na Hom toe gekom en Hy het hulle gesond gemaak.

15. Maar toe die hoofpriesters en die skrifkenners die merkwaardige dinge sien wat Hy doen en hoor hoe selfs die kinders in die tempel uitroep: “Prys God vir die Seun van Dawid,” was hulle bitterlik ontsteld

16. en het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” was Jesus se antwoord. “Het julle nog nooit in die Skrif gelees: ‘U het kinders en babatjies geleer om u lof te besing’ nie?”

17. Toe is Hy weer daar weg en Hy het uit die stad na Betanië toe gegaan, waar Hy oornag het.

18. Vroegdag op pad terug na Jerusalem het Jesus honger geword

19. en ’n enkele vyeboom langs die pad sien staan. Hy gaan toe na die boom, maar al wat Hy daaraan gekry het, was blare. Hy sê toe vir die boom: “Mag jy nooit weer vrugte dra nie!” Die boom het onmiddellik totaal verskrompel.

20. Die dissipels was verstom toe hulle dit sien en het gesê: “Hoe op aarde kon die boom so skielik heeltemal verdroog?”

21. Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle dat as julle glo en nie twyfel nie, julle nie net dieselfde sal kan doen nie, maar baie meer. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘God sal jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur.

22. Alles wat julle in die gebed van God vra, sal julle ontvang, mits julle glo.”

23. Weer terug by die tempel was Jesus besig om onderrig te gee toe die priesterhoofde en familiehoofde na Hom toe kom en vra: “Watter soort volmag het jy om mense uit die tempel te jaag? Wie het jou hierdie volmag gegee?”

24. Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê watter soort volmag Ek het om hierdie dinge te doen. Maar dan moet julle eers vir My hierdie vraag beantwoord:

25. ‘Kom die doop wat Johannes beoefen het, van God af, of was dit maar ’n bloot menslike saak?’”Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, gaan hy vir ons sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’

26. “Maar as ons sê dit was maar net ’n bloot menslike saak, sal ons vir die volk moet oppas, want vir hulle is Johannes ’n profeet.”

27. Gevolglik het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.”Daarop was Jesus se reaksie: “Dan gaan Ek ook nie julle vraag beantwoord nie.”

28. “Maar wat dink julle hiervan?” sê Hy toe vir hulle. “’n Man wat twee seuns gehad het, het na die eerste een toe gegaan en vir hom gesê: ‘My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.’

Matteus 21