Matteus 13:5-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet.

6. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog.

7. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik.

8. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het ’n oes voortgebring, party 100 maal, party 60 maal en party 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.

9. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

10. Sy dissipels kom toe na Hom toe en sê: “Waarom gebruik U altyd sulke diepsinnige gelykenisse as U met die mense praat?”

11. Hy antwoord hulle toe: “Omdat julle bevoorreg word om die geheime van God se koningsheerskappy te verstaan. Húlle word nie so bevoorreg nie.

12. Hulle wat reeds verstaan, vir hulle sal nog meer gegee word en hulle sal oorvloedige kennis hê. Maar hulle wat nie insig het nie, van hulle sal ook nog die bietjie weggeneem word wat hulle wel verstaan.

13. Ek praat met hulle by wyse van gelykenisse, want hulle kyk en tog sien hulle nie, en hulle hoor, maar tog luister en verstaan hulle nie.

14. Die profesie van Jesaja word in hulle geval bewaarheid:‘Julle sal my woorde hoor en tog nie verstaan nie. Julle sal sien wat Ek doen en dit tog nie werklik begryp nie.

15. Ja, die hart van hierdie volk het verhard,en hulle hoor swaar met hulle ore,en hulle het hulle oë toegemaak sodat hulle nie dalk met hulle oë sienen met hulle ore hooren met hulle hart begrypen tot bekering kom en Ek hulle gesond maak nie.’

16. “Maar julle – gelukkig is julle oë omdat hulle sien en julle ore omdat hulle hoor.

17. Dít verseker Ek julle, baie profete en godvresende mense het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar dit was hulle nie beskore nie.

18. “Luister julle nou wat die gelykenis van die saaier beteken:

19. Hulle by wie die saad op die voetpad gesaai is, is elkeen wat die boodskap van God se koningsheerskappy hoor, maar dit nie begryp nie. Die Bose kom en roof wat in hulle harte gesaai is.

20. Hulle by wie op klipperige grond gesaai is, is die mense wat die boodskap hoor en dit dadelik met blydskap aanneem.

21. Maar hulle wortels gaan nie diep nie en hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar swaarkry of vervolging ter wille van die boodskap kom, struikel hulle in hulle geloof.

22. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug.

23. Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan. Hulle dra vrug en bring ’n oorvloedige oes voort: 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.”

Matteus 13