32. Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ’n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak.”
33. Hy het ook die volgende gelykenis vir hulle vertel: “God se koningsheerskappy is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik het om brood te bak. Al het sy net ’n bietjie suurdeeg in ’n groot baksel meel ingewerk, het dit uiteindelik alles deursuur.”
34. Jesus het altyd gelykenisse soos hierdie gebruik as Hy met die skare praat. Om die waarheid te sê, Hy het nooit met hulle gepraat sonder om gelykenisse te gebruik nie.
35. So het die uitspraak van die profeet uitgekom: “Ek sal deur middel van gelykenissemet julle praat.Ek sal bekendmaak wat geheim gebly het van die skepping van die wêreld af.”
36. Daarna het Jesus van die skare af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe na Hom toe en vra: “Verduidelik asseblief vir ons die gelykenis van die onkruid op die saailand.”
37. “Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai.
38. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort.
39. Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele.
40. “Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld.
41. “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder
42. en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.
43. “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”