16. Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?”
17. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”
18. Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?”
19. Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie.
20. Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas.
21. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat.
22. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!”
23. Een Sabbatdag, terwyl Jesus deur die koringlande geloop het, het sy dissipels so al lopende are afgepluk om te eet.
24. Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Kyk wat doen hulle! Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”
25. Jesus se reaksie was: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in die nood verkeer het en hy en sy mense honger was nie?
26. Hy het tydens die hoofpriesterskap van Abjatar in die huis van God gegaan en wederregtelik van die offerbrood geëet wat vir die priesters bedoel was; en hy het ook daarvan vir sy mense gegee.”
27. Toe sê Hy vir hulle: “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie.