17. “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan!
18. Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa;
19. ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’
20. “Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen.
21. Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’
22. “Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete.
23. En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier,
24. want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.
25. “Intussen het die ouer seun in die veld gewerk. Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek en dansery in die huis,
26. en hy vra toe een van die bediendes wat aangaan.